Bepalings en voorwaardes verbonde aan Solidariteit Mentorskap

Definisies

Persoonlike inligting: Inligting soos omskryf in die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (No. 4 van 2013).

Solidariteit: ’n Geregistreerde vakbond ingevolge artikel 97 van die Wet op Arbeidsverhoudinge, (No. 66 van 1995).

Mentor(s): Enige persoon wat op hierdie platform geregistreer is om as beroepsmentor vir ʼn jong persoon op te tree.

Mentee(s): Enige persoon wat lid van Solidariteit of Solidariteit Jongwerkende is en wat vrywillig registreer om beroepsmentorskap te ontvang.

Mentorskap webtuiste: Die gratis elektroniese platform van Solidariteit waar mentors en mentees met mekaar in verbinding kan tree om vrywillig aan Solidariteit se Mentorskapprogram deel te neem.

Bepalings en Voorwaardes

Solidariteit Mentorskap is ’n produk wat Solidariteit aan mentors en mentees bied waardeur:

      • ʼn persoon hom/haarself vrywillig kan beskikbaar maak om as beroepsmentor op tree vir ʼn jonger persoon binne die beroep, met die doel om advies en beroepsondersteuning te bied aan die jonger persoon wat die beroep betree. Hierdie raad en advies sluit in advies rondom persoonlike ontwikkeling asook werkplekgereedheid;
      • die mentor roepingsgedrewe is en assosieer met Solidariteit se waardestel, en daarom sy of haar tyd gratis beskikbaar maak om as mentor op te tree vir ʼn mentee; en waardeur
      • Mentees vrywillig registreer vir die mentorskapprogram, roepingsgedrewe is en self verantwoordelikheid neem vir sy/haar persoonlike ontwikkeling.

Enige verbintenis wat ’n mentor met ’n mentee aangaan is tussen daardie mentor met ’n mentee self en nie met Solidariteit nie en daar is geen aanspreeklikheid deur Solidariteit teenoor die mentor en/of die mentee nie.

Solidariteit beveel aan dat mentorskap op elektroniese basis geskied, en neem geen verantwoordelikheid vir enige kostes of verliese gelei uit die persoonlike ontmoeting tussen mentors en leerlinge nie.

Beide die mentor en mentee stem daartoe in om deel te neem aan ʼn keuringsproses, wat ʼn onderhoud sal insluit en waartydens die betrokke partye eerlike besonderhede sal verskaf vir deelname aan die program.

Mentors en mentees stem daarmee toe dat waar nodig, addisionele verifikasie verskaf sal word van verwysings en werkgewers om sekuriteitsaspekte aan te spreek.

Mentors en mentees aanvaar dat die plasing van ʼn mentor en mentee nie outomaties is nie, en dat deelname aan die mentorskapprogram onderhewig is aan die beskikbaarheid van ʼn gepaste mentor/mentee.

Enige partye mag ter enige tyd besluit om hul deelname aan die program te kanselleer, en onderneem om Solidariteit in kennis te stel van hul kansellasie.

Die werksoekers en werkgewers het geen eis teen Solidariteit, sy bestuur, werknemers, ondersteuningspersoneel, beamptes of agente wat uit die gebruik van die Mentorskapplatform voortspruit of verband hou nie, hetsy ’n ooreenkoms tussen die mentor en die mentee aangegaan is of nie.

Die mentor en die mentee vrywaar Solidariteit, sy bestuur, werknemers, ondersteuningspersoneel, beamptes of agente, teen alle verliese, wat direk of indirek voortspruit uit, of in verband staan met die gebruik van die Mentorskapplatform.

Solidariteit Mentorskap is slegs toeganklik vir mentors wat vooraf op die platform registreer.

Mentorskap is slegs toeganklik vir mentees wat lede van Solidariteit of Solidariteit Jongwerkende is en wat vooraf op die platform registreer.

Mentors en mentees sal voor toelating tot die Mentorskapplatform hierdie bepalings en voorwaardes moet aanvaar.

Solidariteit behou die reg voor om te enige tyd hierdie Mentorskapplatforms te wysig, skrap, uit te brei, te beperk of ’n tydsduur daaraan te koppel.

Solidariteit hou die reg voor om enige persoon sonder vooraf kennisgewing van die program te skrap.

Die mentor en mentee is bewus en stem toe dat hul persoonlike inligting bekom en verwerk mag word in die fasilitering van die verhouding tussen beide partye.

Die mentor en die mentee stem toe om, by die verkryging van persoonlike inligting deur deelname aan die mentorskapprogram, te voldoen aan die bepalings van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting en die persoonlike inligting slegs te gebruik vir die doel waarvoor die persoonlike inligting beskikbaar gemaak is.

Mentors en mentee gee by aanvaarding van hierdie bepalings en voorwaardes toestemming dat hulle deur verskeie instellings binne die Solidariteit Beweging gekontak kan word om produkte en dienste bekend te stel en hulle persoonlike inligting vir statistiese en navorsingsdoeleindes gebruik mag word.

Solidariteit doen alles in hul vermoë om te verseker dat persoonlike inligting streng vertroulik hanteer word en redelike databeveiligingsvoorsorg getref word. U sal egter nie Solidariteit en sy personeel aanspreeklik hou indien u persoonlike inligting onwettig van die Mentorskapplatform bekom word deur ongemagtigde middele en/of sonder toestemming versprei word nie.

Terwyl Solidariteit voorsorgmaatreëls tref om te verseker dat die Mentorskap-webwerf vry van virusse is, kan Solidariteit nie waarborg dat lêers wat gelaai word om via die webwerf gebruik te word of per e-pos deur die webwerf afgelaai word, vry van virusse of ander skadelike programme is nie. Jy is verantwoordelik vir die implementering van voldoende beskermende sagteware op jou stelsel wat jou spesifieke databeveiligingsvereistes sal bevredig en om ’n rugsteun wat buite jou werkstasie is, in stand te hou vir die heropbou van enige verlore data.

Solidariteit behou die reg voor om enige tyd ʼn registrasie vir mentorskap te verwerp of te verwyder en enige registrasie te kanselleer.

Mentors en mentees mag slegs hulle eie besonderhede op die Mentorskapplatform plaas.

Geen vergunning, uitstel of ander toegewing wat Solidariteit aan mentors en mentees mag gee ten opsigte van die nakoming van enige verpligting ingevolge hierdie bepalings en voorwaardes, word onder enige omstandighede geag ’n geïmpliseerde toestemming of uitoefening van afstanddoening daarvan te wees nie, en raak nie op enige wyse enige regte van Solidariteit kragtens, of voortspruitend uit hierdie bepalings en voorwaardes nie, en stop of weerhou nie Solidariteit van die afdwinging van streng en stiptelike voldoening hiervan nie.